Aanhaling van die oomblik!
Fiksie
Nie-fiksie
Kinders
Leermiddels
Christelik
Legkaarte
Dagboeke
Kalenders




Besoekers: 2344859


Klik vir meer inligting
Die begunstigde deur D.J. Winterbach
R170.00
RAPPORT - 2010-08-29
'n Deurwinterde debuut - Thys Human

Hier is ’n besonder opwindende en boeiende boek, een wat beur teen voorspelbaarheid, sĂȘ Thys Human.

Die debatte en doemprofesieĂ« wat van tyd tot tyd oor die sogenaamde “nuwe stemme” in die Afrikaanse letterkunde opklink, berus dikwels op die (aanvegbare) aanname dat slegs jong stemme in aanmerking geneem moet word.

Met sy debuutroman, Die begunstigde, bewys Dirk Winterbach (76) dat ’n mens beslis nie jonk hoef te wees om as ’n nuwe stem gereken te word nie. Op behendige wyse slaag hy daarin om vir hom ’n baie unieke plek in die Afrikaanse prosa oop te skryf.

Sy hoofkarakter, wat die leser slegs as “die man” leer ken, word deur ’n uiters traumatiese gebeurtenis tot waansin gedryf. Hy word met permanente amnesie in ’n inrigting opgeneem waar psigiaters vasstel dat hy “bewustelik ’n muur geskep het tussen die verlede en die hede, en dat hy dit regkry om geen boodskappe van die onbewuste deur hierdie muur te laat breek nie”.

NĂĄ sy ontslag slyt hy sy eensame dae in ’n koue, klein dakkamertjie. Die enigste persoon met wie hy kontak het, is die prostituut Adriane se kreupel dogtertjie Toufle. Ook diĂ© armsalige kamertjie verlaat hy uiteindelik met die voorneme om ’n eutanasie-inspuiting in die spesiale afdeling van die provinsiale hospitaal te ontvang.

VanweĂ« sy obsessie met woorde – een van die min ankers in sy laaste dae – besoek hy vir oulaas die biblioteek om die morfologiese samestelling van die woord “pantoffel” na te slaan.

(Met ’n skok dring dit tot hom deur dat “Pan-”, en al die bokkige assosiasies wat diĂ© naam oproep, op hĂłm van toepassing is, terwyl “-toffel” afgelei is van die Franse woord “toufle” of “touffu” wat duidelik betrekking het op die krulkopdogtertjie Toufle.)

Wanneer hy van sy beursie beroof word en nie meer die eutanasie-inspuiting kan bekostig nie, dwaal hy rigtingloos en ontnugterd deur die stad. Hy beland toevallig by ’n kliniek wat ’n vakature vir ’n veiligheidswag adverteer. Hy kry die pos en moet as een van sy eerste opdragte hekdiens doen by ’n partytjie waar die gemaskerde feesgangers aan ’n orgiastiese ritueel deelneem.

Deur ’n vreemde sameloop van omstandighede kom hy oplaas wel in ’n hospitaal tereg, waar hy teen sy sin by die oeroue konfrontasie tussen die mens (’n vrou wat sy hand vashou en vir hom musiek speel) en die Dier (‘’n bok”) betrek word.

Hieruit blyk dat Winterbach nie net uit die Griekse mitologie put nie, maar ook uit die antieke misteriegodsdienste, en dan veral die rituele ter ere van Dionisus (die Griekse god van wyn en vrugbaarheid). In Die begunstigde vind die Dionisiese fuifparty byvoorbeeld plaas in ’n gebou wat aan ’n Griekse tempel herinner. Onder die begeleiding van oorverdowende orrelklanke, stamp ’n middelman in ’n pers kapmantel ritmies met ’n lang silwer staf (en dennebolpunt) op die grond, terwyl die gemaskerde gaste hulle aan wyn en kos vergryp en selfs in kollektiewe ekstase “Euoi!” uitroep.

Volgens die agterblad moet die roman as psigologiese riller gelees te word. Soos in ander romans in diĂ© genre vind die konflik hier binne ’n enkele karakter plaas wat alle pogings denkbaar aanwend om ’n sleutelinsident in sy verlede te probeer peil. Hierdie innerlike konflik word aan die hand van allerlei argetipiese gebeure en karakters gekonkretiseer. Aangesien die klem in diĂ© tipe romans dikwels val op ’n subjektiewe belewenis van gebeure, ’n verbete poging om te onderskei tussen waarheid en leuen, identiteitsoeke en ’n obsessie met die dood, herinner Die begunstigde (en veral die eerste deel van die roman) aan die eksistensiĂ«le prosa van AndrĂ© P. Brink en Jan Rabie.

Die werklose man wat sy dae in ’n dakkamertjie deurbring, herinner aan Brink se kortverhaal “Dertien”, terwyl die toneel waarin die man ’n ernstig beseerde voetganger na die kliniek begelei, iets van die surrealisme van Rabie se “Man met die swaar been” en “Drie kaalkoppe eet tesame” oproep.

Voorts gee die hoofstuktitels ’n aanduiding dat die hoofkarakter se tog deur die stad, sy kruistog deur mites en metafore, ook as ’n parodie op die sogenaamde heldereis (hero’s journey) geĂŻnterpreteer kan word: ’n afdaling na ’n benedewĂȘreld (Katabasis), die oorsteek van ’n bepaalde drempel (Limen), die betreding van die Labirint, ’n tipe inwydingsdood wanneer hy op psigiese vlak uitmekaargeskeur word (Sparagmos), ’n oomblik van ekstase (Eqousiamos) en ’n uiteindelike terugkeer na die bekende wĂȘreld (Anabasis).

Die stof wat Winterbach in die roman betrek, is alles behalwe nuut. Die wyse waarop hy die uiteenlopende gegewens by mekaar uitbring en integreer, aktiveer egter verrassende betekenismoontlikhede en laat jou met nuwe oĂ« na die wĂȘreld rondom jou kyk.

Maar menige leser gaan waarskynlik niĂ© aanklank vind by die roman nie, wat dit as volksvreemd en ondermynend gaan afmaak. Want Winterbach vertel ’n verhaal wat intense konsentrasie verg, talle bestaande beskouings uitdaag, en jou met heelwat onbeantwoorde vrae laat.

Soos die romans wat die man se eerste vrou aan hom voorgelees het, is Die begunstigde ’n boek wat asemhaal, diep sug en beur en maal teen voorspelbaarheid, teen eentonigheid, teen ’n emosielose voortploeter tot die bittereinde. En dít maak Winterbach se roman vir my besonder opwindend en boeiend!

* Prof. Thys Human is hoof van die departement Afrikaans aan die Universiteit van Johannesburg.




Klik vir meer inligting
Spoorloos deur Riana Mouton
R150.00
RAPPORT - 2010-08-29
Nóg ’nTREFFER ná debuut-sukses - Ilse Salzwedel

Deon Meyer het mededinging. Gedugte mededinging. Haar naam is Riana Mouton, en reeds met haar debuut, Reuk van die dood, het sy lesers en resensente gaande gehad. Dit was dus nie ’n verrassing nie toe Reuk verlede jaar die kortlys van die ATKV Woordveertjies vir spanningsfiksie haal.

As liefhebber van spanningsfiksie het ek gewonder hoe Mouton haar fenomenale debuutsukses gaan opvolg. Toe ek Spoorloos begin lees, was dit baie gou baie duidelik: Riana Mouton het gekom om te bly.

Daar is min mense met ’n natuurlike aanleg vir ’n uitdagende genre soos spanningsfiksie, maar Mouton het wat nodig is en sal haar lesers hopelik nog lank verbly.

Sy spin die leser nie toe in ’n vervelige web van onnodige woorde en oorbodige karakters nie. Die pas in Spoorloos is vinnig, die verhaal, nes in haar vorige boek, gestroop van tierlantyntjies en vol naelbyt-intrige en interessante kinkels.

Mouton se hoofkarakters is geloofbare helde. Junior Scheepers, die speurder in Reuk van die dood, sal beslis ’n pos in my polisiemag kry. Alex Cloete, Spoorloos se woedende, driftige held se soektog na sy ontvoerde seun sorg dat ’n mens die boek nie wil neersit nie.

Jy beleef sy frustrasie as pa en sy verbittering oor dit wat alles in sy lewe en loopbaan verkeerd geloop het. Die spook van sy gewelddadige weermag-verlede bly deurentyd kort op sy hakke en die leser wag in spanning vir die breekpunt.

Mouton doen deeglike navorsing; dit wys in haar boeke. Dis hier waar haar natuurlike aanleg vir die genre duidelik blyk, want ’n minder bedrewe skrywer sou dalk maklik die spoor tussen soveel detail byster geraak het. Of erger nog, dalk nie eens aan al die detail gedink het nie.

Daar is familiegeheime en karakters uit die verlede wat die leser al dieper in die web van intrige intrek. Want wat sou die motief wees van die groep gewetenlose misdadigers wat eers Alex se gewese vrou vermoor en daarna sy seuntjie ontvoer?

En, belangrikste van alles, hoe gaan hy sy kind uit hul kloue red?

Spanning is daar genoeg. Ook skop, skiet en natuurlik bloed. Alex is nie verniet opgelei in die gevegskuns nie. Die verhaal ontplooi oor drie vastelande en heeltyd tik-tik-tik die horlosie.

En tussendeur moet Alex ’n paar van sy persoonlike duiwels besweer en dele van sy verlede agter hom laat. Hoe bevredigend vir diĂ© leser om ’n karakter te sien groei!

Mouton skryf klaarblyklik moeiteloos. Haar dialoog is vloeiend en gemaklik, en dis duidelik dat sy haar karakters intiem ken.

Interessant genoeg is albei haar boeke se helde manlik, maar nog meer verfrissend is hoe maklik sy haar manlike karakters se stem vind en hoe skynbaar moeiteloos sy hulle lewende, driedimensionele karakters maak.

Jy voel of jy Alex en Junior Scheepers persoonlik kén as jy die boek uiteindelik neersit. Of nee, eintlik sit mens die boek te gou neer, en soos met haar vorige boek soek jy meer.

Hoewel die leser genoeg leidrade kry, is die einde (selfs vir ’n oplettende persoon soos ek met my voorliefde vir diĂ© genre) steeds ’n verrassing – myns insiens die uitstaande kenmerk van ’n goeie whodunnit.

Spoorloos hoort, net soos Reuk van die dood, op die boekrak van elke liefhebber van spanningsfiksie. Dit vergelyk goed met die Amerikaanse spanningsfiksie van skrywers soos Patricia Cornwell of Nancy Taylor Rosenberg. Hopelik word dit gou aangevul met nog werk uit Mouton se vaardige pen.




Ilse Salzwedel het Riana Mouton per e-pos met vrae gepeper:

Riana Mouton woon tans “vir ’n seisoen” saam met haar man en seuns in Whangaparaoa, Nieu-Seeland.

“Ek en Anton het dit (oorsee getrek) gedoen sodat ons kinders meer geleenthede kan hĂȘ. Ons het twee pragtige seuns wat albei baie goed is in sport, veral rugby en krieket. Naude, die oudste, is 15 en speel albei op provinsiale vlak. Arno is 11.”

Riana meen die dood van hul oudste kind, Maryke, 12 jaar gelede in ’n ongeluk het baie te doen met hoe sy en Anton ouerskap beleef. “Ons is steeds broos daaroor en sal vir die res van ons lewe daarmee moet saamleef. Daarom is daar niks wat ons nie vir ons kinders sal doen nie. Ons het baie opgeoffer om hierheen te kom en gaan hier bly tot die seuns universiteit toe kan gaan.”

Daarna, skryf Riana per e-pos, kom sy en Anton terug huis toe. “My bloed is ’n diepgroen?.?.?.”

Sy skryf nie net boeke nie, maar is “bankier in die dag, ma in die aand en skrywer in die nag”.

Maar hoekom het jy juis hierdie genre gekies?

Ek vermoed dit het baie met my persoonlikheid te doen. Ek is ’n tierlantyntjielose mens wat glo aan ’n reguit, op-die-man-af manier van dinge doen. In hierdie genre kan ek uiting gee hieraan.

Wee die dag dat ek my hand aan ’n liefdesverhaal slaan?.?.?. Dit sal so lui: “Ek het jou lief, jy het my lief. Raait. Kom ons trou.” Ek is nie een vir misverstande nie, en die ellelange misverstande in byvoorbeeld liefdesverhale maak my lam.

Ek hou van opwinding, hou daarvan om my kop te gebruik. (Die Engel voel ek moes ‘n speurder of ’n advokaat gewees het.)

Wat fassineer jou van jou genre?

Ek het onlangs Shutter Island van Leo da Caprio gesien. Ek was so vies. Ek kon vooraf reeds die storielyn raai en ek het in die stilligheid gedink daar móét ’n verrassing wees, want dit was net te opsigtelik. Wat my fassineer, is hoe ver ’n skrywer met my kop kan smokkel, en hierdie fliek het jammerlik gefaal. Elke boek of fliek wat ek lees of kyk is vir my ’n uitdaging. Ek hou daarvan om verras te word.

Hoe kies jy ’n storielyn?

Ek broei weke daaroor. Maande. ’n Storie begin vir my by ’n idee. Gewoonlik iets wat my omkrap of fassineer. Ek skryf ’n storie en vra myself heeltyd af waarvan ek as die leser sou hou.

Hoeveel navorsing gaan in so boek in?

Reuk van die dood se navorsing het my maande lank besig gehou. Ek het geweier om ’n klomp spookasem in my boek te gebruik. Die kosbaarste raad wat ek by my uitgewer, Dineke Volschenk, gekry het was om nooit my leser te probeer mislei nie.

Ek het honderde misdaad-dossiere gelees, foto’s gesien en ook die voorreg gehad om prof. Gerard Labuschagne, hoof van die SAPD se sielkunde-eenheid, te leer ken.

Hy het na my karakter gekyk en ’n profiel saamgestel wat ek in die boek gebruik het. Gerard het my ongelooflik baie gehelp en baie idees gegee wanneer ek aan skrywersblok gely het. Ek het ook ’n lykskouing bygewoon, maar kon helaas nie lank uithou nie.

Met Spoorloos was ek reeds in Nieu-Seeland en moes ek meestal van die internet gebruik maak. Gelukkig het ek lt.kol. Blikkies Blignaut leer ken en hy het my gehelp met die navorsing oor wapens en gevegskuns.

Vertel ’n bietjie van Nieu-Seeland.

Daar is beslis ’n rede hoekom ons hier is. Ons vind die land pretensieloos, rustig en ondramaties. Die aanpassing was reusagtig omdat ons amper ’n persoonlikheidsverandering moes ondergaan om aan te pas.

Dis ’n pragtige land. Senutergend groen. Dit reĂ«n baie hier en ons moes gou die gewoonte aankweek om reĂ«njasse, sambrele en rubberstewels in ons motors te hĂȘ. Daar kan soms vier seisoene in een dag wees en die weer hier is uiters onvoorspelbaar. Maar dis rustig en veilig hier.

Wat mis julle van SA?

Die essensie, die ritme, die sonskyn. Ons mis regte egte braaitjops en skaapribbetjie. (Kiwi-skaap proe vir my soos wol.) Ek mis sout wat sout is, suiker wat soet is, speserye en gerookte Weense worsies.

Spoorloos deur die oë van ander:

Leoné Tiemensma:

In Spoorloos se proloog word ’n raaisel rondom twee moorde geskets en die donker wolk van hierdie gebeure is die spanningslyn wat deur die verhaal loop. Die spanningselement is van die eerste sin af teenwoordig: “Middernag was nog altyd die beste aanvalstyd.” Die proloog sluit af met “Jy gaan betaal hiervoor.”

Die hoofkarakter, Alex Cloete, het ’n blink toekoms gehad, maar nou is hy ’n dronkgat, ’n slapgat. Alex was deel van ’n spesiale taakmag in die weermag. “Waar het dit begin? Dis die bloed aan sy hande. Bloed roep om wraak.”

Sy ma, Lilian, het ook geraamtes in haar kas. ’n Spanningslyn loop deur die geheimsinnige telefoonoproepe wat sy telkens ontvang.

Alex en sy vrou, Mercia, is geskei en hul seun Zander woon by haar. Wanneer Mercia in verdagte omstandighede in ’n motorongeluk sterf en Zander wegraak, verdiep talle raaisels.

Mercia het net voor die ongeluk ’n reuse-som geld in sy rekening inbetaal en hy het geen idee wat dit beteken nie.

’n Geheimsinnige besoek laat Alex besef Zander leef nog. Alex volg hierdie spoor op. Hy is bereid om alles te waag om sy kind terug te kry. Sy teenstanders besef dit en buit dit uit.

Die verhaal word een groot nagmerrie. Twee Griekse magnate, Tsiakos en Stavropolos ,se magstryd en hebsug word deel van die verhaal. Grootskeepse bedrog en afpersing is ter sprake. Die onverwagse einde is heel kreatief.

Sommige gebeure oortuig nie heeltemal nie en Alex slaag soms op ’n byna bo-natuurlike “MacGyver”-wyse om uit die moeilikheid te kom. Mouton bevredig die leser op emosionele vlak en daarby is die verhaal nie voorspelbaar en oplossings nie ooglopend nie. Die sielkundige spel tussen Alex en sy teenstanders boei enduit.

Arno Levin:

Die deursnee-leser is op soek na enkele sleutelelemente in ’n roman. Goeie, dog realistiese taalgebruik, struktuur en geloofwaardigheid is maar van die dinge wat in ’n mens se gedagtes opkom. Tog is dit die storie, die relevansie, struktuur en ritme daarvan wat op die ou einde die belangrikste is. Hennie Aucamp verwoord dit goed as hy dit die “blote storie” noem.

Te veel Afrikaanse fiksie wil deesdae die diepte van emosie en siel aanraak deur op alles behalwe die intrige te fokus. Gevolglik verander dit in ’n losgetorringde collage van die skrywer se gedagtesketse. Hoe verfrissend is dit dan nie as Riana Mouton juis die teenoorgestelde doen.

Die storie boei die leser van die begin af en behou ’n realisme wat soms soos ’n Hollywood-aksiefilm afspeel. Buiten vir een of twee spelfoute reg in die middel van die boek, is die taal deurgaans treffend en word vloekwoorde, wat tog so oorbodig in diĂ© genre kan wees, net op die regte plekke gebruik.

Miskien kan ’n mens sĂȘ Spoorloos bied ’n middeweg tussen ’n lekkerlees spanningsroman en ’n potensiĂ«le boekepryswenner. Ongetwyfeld slaag Riana Mouton daarin om die gesoute kritikus en die leek tevrede te stel. En dit is geensins ’n maklike taak nie.

Irene van Staden:

Met sy donker verlede vind Alex Cloete dit moeilik om dag na dag voort te leef en van alles te vergeet. Maar dis nie die ergste van sy probleme nie, hy is platsak, almal sien hom as ’n mislukking en boonop bly sy kind, Zander, by sy eksvrou, Mercia.

Dinge raak nog meer gekompliseerd wanneer sy eks skielik sterf en sy kind spoorloos verdwyn. Dis ’n kettingreaksie van gebeure en emosies wat ontvou wanneer geraamtes uit almal se kaste verskyn.

Riana Mouton se boek vermaak ons met die liefde wat ’n pa vir sy kind het en is ’n uitstekende voorbeeld van konflik en geheime wat in ’n familie voorkom. Dis ’n uitstekende element in ’n verhaal wat enduit boei.


Ilse Salzwedel is ’n vryskutjoernalis.




Klik vir meer inligting
Praat Verby Grense deur Frits Gaum, Laurie Gaum
R150.00
Volksblad - 2010-08-28
Gaums se werk ’n veilige boek oor ’n gevaarlike gesprek - Jan Lubbe

DIE heel laaste sin in Praat verby Grense is dalk die veelseggendste oor dié gesprek tussen Laurie Gaum en sy pa, Frits, albei bekende leraars in die NG Kerk.

Dit was nie deel van hul gesprek nie, maar ’n vindingryke tipografiese greep om – net soos die opskriffies bo elke brief: “From: Laurie Gaum. To: Frits Gaum. Saturday, 25 April 2009 9:19 AM. Subject: Douw se dood” – die indruk van outentisiteit by die leser te laat.

Praat verby Grense is ’n klompie e-posse wat tussen April en Oktober 2009 tussen pa en seun gewissel het, vier jaar ná die traumatiese gebeure toe Douw Steyn, Laurie se lewensmaat, selfmoord gepleeg het en hul homoseksuele verhouding sensasioneel in die openbaar uitgeblaker is – ’n “media-sepie soos min”, het Joan Hambidge dit destyds genoem (bl. 18).

“Die media het gebaljaar en die kerk het haar lam geskrik”, aldus Laurie (bl. 33). Vir hom, toe ’n jong predikant in die NG kerk St. Stephen’s in Kaapstad, was dit die begin van ’n moeilike pad in diĂ© kerk en waarop kerkrade, ringe en sinodes met wesenlike vrae oor die etiek en hantering van predikante se seksuele oriĂ«ntasie gekonfronteer is, sowel as oor die aard en gesag van die Bybel – ’n debat wat steeds voortgaan en wĂȘreldwyd in kerke op breekpunt staan.

“Jy (het) die gay kwessie soos niemand anders nie op die tafel geplaas”, skryf Frits (bl. 38). Vir hĂłm het die nuus dat sy seun gay is – “Die formele afspraak” toe Laurie hom op kantoor kom spreek het om dit te sĂȘ (bl. 22) – ’n tyd van worsteling, praat, lees en bid gebring; twee jaar lank ook saam met sy seun by ’n terapeut. Hierin lĂȘ ’n deel van die boek se waarde: Dit vertel iets van die pad waarlangs ouers en hul kinders in sĂł ’n situasie behoort te loop – ’n praat verby grense.

Die temas in die gesprek vloei gemaklik: Dit begin ligweg outobiografies, praat dan oor homoseksualiteit in die algemeen en diskriminering daarteen, lĂȘ dieperliggende denkraamwerke daaragter bloot, loop uit op die belangrike vraag hoe ons die Bybel lees en eindig noodwendig by God.

Voorin is ’n alfabetiese lys van aktualiteite wat in hul gesprek “ter sake” gaan kom: apartheid, bevrydingsteologie, Broederbond, Calvinisme, geregtigheid, onverdraagsaamheid, oudword en doodgaan, rassisme en vergifnis. Trefwoorde tussen twee generasies, waarvan baie pa’s en seuns steeds in hul gesprekke wegskram – ’n verdere aanbeveling vir die boek dus.

Waarom het die Gaums diĂ© boek geskryf? Frits skryf maklik en hul boek lees maklik. Maar dit word algaande duidelik Praat verby Grense was nie net ’n spontane briefwisseling nie; daar was vroeg al die bedoeling om dit ’n boek te maak.

En spesifiek vir 2010: Frits het op 25 April 70 jaar geword Ă©n – skryf hy vir Laurie – die NG Kerk het diĂ© jaar as “jaar van grense oorsteek” aangekondig! Ook die voorbladfoto verklap iets: Die boek is ’n uitbreiding op die “tweegesprek” wat CornĂ©l Dunn van Rooi Rose al in Junie 2007 met hulle gevoer het – dieselfde trefwoorde en standpunte.

Maar tóé was dit plofbaar: Dit was die maand waarin die NG Kerk se Algemene Sinode uitspraak oor Laurie se saak moes gee Ă©n oor wat die Bybel oor homoseksualiteit sĂȘ of nie sĂȘ nie. Nou, drie jaar later, sit pa en seun op dieselfde foto nader aan mekaar en is dit betekenisvol omgedraai: Frits (“Pa-hulle se generasie”, bl. 67) sit regs, Laurie links.

Hul vrae aan mekaar, waarmee elkeen die kans kry om weer oor die verlede te praat en te verduidelik (Ă©n ’n paar byltjies te slyp), is gelade. So vra Frits sy seun uit oor die dood van sy lewensmaat en Laurie sy pa oor diĂ© se “reis met apartheid” – vrae waarop hulle die antwoorde tog lankal ken.

Daarom kry ’n mens die indruk Praat sonder Grense is ’n “gemaakte” boek: betyds, berekend, beheers, (kerk)polities-korrek.
Daar is wel aangrypende oomblikke soos wanneer Laurie sĂȘ “Pa moet onthou dat ek Douw liefgehad het” (bl. 15) en “Ek hoop (op ’n ‘veilige ruimte’ in die kerk)... Ek hoop baie hard” (bl. 108).

Soms glip iets tog deur wat jou laat vra: Wat was regtig die gevoel oor homoseksualiteit in “die vroom, dromerige kerkdorp Wellington” se pastorie? Die seun onthou ’n huis, “gelukkig en sorgvry”, vrye denke en kreatiwiteit, intense etenstafelgesprekke Sondagmiddae; die pa beleef vertwyfeling oor sy “afwesigheid” en die seerkry van sy seun in hul huis omdat “jy geweet (het) hoe die wind waai as “moffies” ter sprake sou kom”.

Kortom: Die leser van Praat sonder Grense kry ’n afstandelike refleksie te lese – níe die rou emosie nie van eerste reaksies in briewe en gesprekke uit 2001 toe Laurie sy pa op kantoor gaan spreek het of die passie en geweld wat in 2005 losgebars het, waaruit lesers wat hulle in soortgelyke situasies bevind, dalk meer sou kon leer.

En die laaste, veelseggende sin? Op bl. 111 staan gewoon: “This message has been scanned for dangerous content and is believed to be clean.”

Praat sonder Grense is ’n veilige boek oor ’n gevaarlike gesprek. Tussen ouers en kinders is daar dikwels hieroor net stotterende woorde. En wat die kerk betref: Laurie Gaum sug nie sonder rede oor die kategese, ACSV en teologiese fakulteite van destyds Ă©n vandag nie (bll. 27, 89).

Daar is baie dinge nog nĂ­e gesĂȘ nie. Geen wonder nie dat hy kies vir ’n “teologie van weerloosheid” (bl. 111).



Klik vir meer inligting
Oewerbestaan deur Melt Myburgh
R140.00
Volksblad - 2010-08-28
Wat digter kén, lewer beste verse - Joan Hambidge

DIE uitreiking van ’n debuutbundel is ’n besonderse oomblik. Dit is wanneer die digter die eerste keer sy/haar verskyning maak en wys watter bydrae daar binne ’n kanon gemaak kan word. Dikwels kan ’n mens terugskouend al die temas terugvind in die debuut wanneer ’n digter verder ontwikkel.

Melt Myburgh se Oewerbestaan is ’n bundel wat die jeug in ’n gerepresseerde en rassistiese bestaan sinkopeer met die leefwĂȘreld van Lorca. Dit is uiteraard ’n ambisieuse opset, juis omdat Lorca so ’n groot digter is. Die besoek aan Lorca se leefwĂȘreld in die Andalusiese dorp Fuente Vaqueros in Granada is die oerbron waaruit ander gedigte waaier.

Lorca was ’n komplekse figuur en hy is veral binne die gay wĂȘreld ’n ikoniese figuur. Die digter is wel bewus van hierdie problematiek, want hy vra: “hoe skryf ek, dierbare frederik, hiĂ©rdie landskap vir jou oop // sonder om reĂ«lreg my eie graf in te loop?” (16)

Die digter aktiveer dus argetipes in ’n Jungiaanse denke: lewe, dood, waansin, normaliteit en dies meer. Die bundel betree die wĂȘreld waaruit die digter kom (karos, met die onderskrif 40?km buite Upington, bl. 16) en die landskap waarna verlang word, te wete die Spaanse wĂȘreld van Lorca.

Lorca is dan ’n simbool van die dood en die hele bundel kan gelees word as ’n spanning tussen eros en thanathos (in Freud se terme). Die besef word uitgespeel in die vers oor die vader se selfmoord, by my pa se dood (bl. 67) in die afdeling inkdood waarin die seun desperaat die vader vra om sy “gedigpraat” aan te hoor.

Dit sluit aan by die vers op bl. 15 waarin die digter as’t ware sukkel “om ’n john deere // te laat dreun op die onderpad van sy geheue”.

Hiermee word ’n psigoanalitiese lesing uitgenooi: die dood van die vader en die dood van Lorca word een in die onbewuste en hierdie spanning kan alleen in die ruimte van die gedig opgelos word. Die films wat vasbrand in skoolsale, is die herinneringe wat vir die spreker oorweldigend en pynlik is (bl. 16).

Die lotgeval van die gay man word dan verwoord in verse soos aan jeffrey dahmer (bl. 68), tereg met erkenning aan Johann de Lange wat dit uitmuntend gemetaforiseer het, en in ’n gedig oor Laurie Gaum wat heet jesus in vlak water (na die foto van laurie gaum) (bl. 52) waar die problematiek van Gaum se Rapport-foto’s so verwoord word:

“as jy op water kon loop,
sou die offer tussen jou hande
nie ’n enkele koerant verkoop”.

Om Gaum se ontbloting aan Christus se lot gelyk te stel, vind hierdie leser gewoon problematies. Mag dit, wonder ’n mens. Is enige mens se leed vergelykbaar met Christus se simboliese offergawe?

In privaat skool (bl. 53) word die draadwerk ’n verwysing na onanisme, terwyl playstation 2 (bl. 54) die tema pak wat reeds deur De Lange soveel sterker uitgewerk is.

In die lykdig, by my pa se dood (bl. 67), word die selfmoord van die vader in ’n pynlike bestekopname beskou:

“intussen hou ek die spieĂ«l angstig dop
vir lyne wat jĂłĂș lees as voorsaat”

Die gedig tree in gesprek met De Lange se pa-gedigte wat deur sy oeuvre loop en die gedig as beswering van die konflik met die vader wat die kind versaak het.

Die vaderfiguur waarmee Myburgh in gesprek tree, is Lorca. Die leser is hierom dan bewus van ’n gevoel van uitsigloosheid en somberheid.

Die beste verse is oor die wĂȘreld wat die digter ken, soos upington (bl. 21) met die trae refleksies en die mirador van ’n oewerbestaan.

Nie al die verse is deurgekomponeer nie. Daar is gesogte beelde (hoe lui ’n foon slank?, bl. 17). Dikwels staan verse nog te na aan die ervaring, maar wanneer dit slaag, soos in ’n hand vol, is daar beslis bewys van talent. Daar is hiperbolies gedink, om die digter buite verband aan te haal, en die gesprek met Lorca bring winste.

Ons ken almal die voortreflike vertalings van Uys Krige in Spaanse dans. Myburgh is oorweldig deur die betowering van Granada en die “heuwels staan knop soos boude” (bl. 32).

Daar is suggesties en openlike verwysings na homo-erotiese aanrakings; iets wat moeiliker was in die ruimte waaruit hy kom. Heen en terug flits die gedigte na mekaar: die nou en die verlede toe die oksels nog vry was van skadu’s.

Die liefdesverse is egter al beter deur Auden, et al. (en by ons De Lange) gehanteer en waarskynlik is die landskap-van-die-jeug die beste verse: dit wat die digter werklik ken én verken het.



Klik vir meer inligting
Die Grysland verblyf deur Jaco Fouche
R150.00
Volksblad - 2010-08-21
Fouché ewenaar nog nie debuut - HP van Coller

JACO FOUCHÉ debuteer in 1996 met die roman Die ryk van die rawe. Hierdie roman was ikonies van ’n land in oorgang en van post-apartheid-Suid-Afrika se jong, losgeslaande “Tarantino-geslag”, soos ek hulle by geleentheid genoem het.

Jong mense, gevorm deur gewelddadige strokiesprente, graphic novels en televisie as enigsins kortstondige kultuurprodukte en –produseerders van daardie tyd. Hulle was die soekendes, vasgevang in hul eie eksistensiĂ«le dilemmas, en FouchĂ© se keuse vir die reisverhaal was bykans vanselfsprekend.

FouchĂ© se jong mense was in hierdie debuutwerk afkomstig van die Kaapse voorstede waar middelklas-Afrikaners veral woon: Bellville, oftewel “Tappet Valley” in FouchĂ© se ideolek.

Bedags werk jy by Sanlam of soortgelyke instellings in ’n klein kantoortjie agter ’n rekenaar, saans kuier jy in ’n kroeg soos diĂ© van Jake’s, wat in FouchĂ© se tweede werk, Paartie by Jake’s, in ’n klompie kortverhale beslag kry.

Onbeduidendes dalk, maar dikwels met die drang tot ontvlugting uit ’n voorstadbestaan wat in die Afrikaanse letterkunde reeds gevarieerd beslag gekry het in werke van Etienne Leroux, Jeanne Goosen, Zirk van der Bergh Ă©n Deon Meyer.

Ondanks ’n vlot verteltrant, knap karakterisering en goeie afwerking, ewenaar FouchĂ© se ander werke tot op datum nog nie sy debuut nie. Die Grysland-verblyf is sy sewende boekpublikasie en ook weer een waarin die psigologiese soektog en reismotief ’n belangrike rol speel.

In die skadeloosstelling vooraf tot hierdie jongste boek van FouchĂ© word enige ooreenkoms met die werklikheid van meet af aan ontken, al adem die boek iets van ’n verkapte outobiografie.

’n Sitaat uit D.J. Opperman se gedig Ballade van die grysland (waaraan die boektitel ontleen is) “Watter kaart of watter ster sal ek jou wys/om veilig deur die grysland heen te reis?” word as motto benut.

In Opperman se gedig word ’n beeld geskep van die goor stadsbestaan waar ’n tipies-Afrikaanse landelike agtergrond kwalik meer is as herinnering by die ontheemde spreker wat boonop blyke gee van geestesversteuring en opname in ’n gestig.

“Grysland” klink byna soos Wasteland, die geestelike wildernis waarin ’n mens soms beland en wat tekenend is van die moderne tyd met sy gesiglose mens, die gevolglike vervreemding en eindelike isolasie.

Die grysland-verblyf wat FouchĂ© in hierdie novelle beskrywe, is enersyds die uitsiglose (voor)stadsbestaan van ’n skilder, Phillip, wat nĂĄ sy eerste uitstalling by ’n groot finansiĂ«le instelling moet gaan werk om aan die lewe te bly. Andersyds is dit ook die raak uitbeelding van iemand wat vasgevang is in die “grysland-verblyf” van ’n skisofreniese toestand.

Dit is ’n geestessiekte wat die pasiĂ«nt diep wantrouig maak en waar vervolgingswaan ervaar word, persepsies verhoog en vreemde reuke ervaar word, onthegting van die werklikheid volg waar die pasiĂ«nt eindelik in totale waansin kan verval.

Nie net word die simptome en gevolge van hierdie siekte grafies beskrywe nie; ook die “berge en dale” daarvan word onder woorde gebring: die moment van groot helderheid en gesondheid, en – wanneer die medikasie dan juis opsy geskuiwe word, die dieptes van ellende.

Phillip se geestelike peregrinasie verloop parallel met ’n werklike reis. Eers vertrek hy van die Kaap na die plattelandse Karoodorpie Prins Albert, waar die stadsmens weer homself “gaan vind”.

Dan ’n langdurige verblyf in Bloemfontein met gereelde besoeke aan die psigiatriese hospitaal. Skynbaar gesond, gaan werk hy in Randburg en dan uiteindelik maar weer in Bloemfontein waar hy opgeneem word in die Oranje-hospitaal, saam met “die Malles”.

In hierdie knap gedeelte ontmoet ons ’n klomp uiteenlopende en interessante karakters en eindelik kom dit by hom op dat hy gesond is. Op ’n ietwat onverwagte wyse kom ’n vrou sy lewe binnegestap en bied hom die werklike redding van ondersteunende liefde.

Op opsommende wyse (asof FouchĂ© se eie blus opgeraak het) word vertel van sy terugkeer en die aanvaarding, selfs hunkering na “gewone”, vervullende dinge: “Lees ’n moeilike boek. Gaan kuier by ’n vriend. Bel jou familie. Teken sketsies, hardloop ’n myl, swem deur ’n plaasdam, bederf iemand met blomme” (bl. 155).

Só word ’n psigologiese siklus voltooi, van siekte tot genesing, van eensame buitestander tot iemand wat in ’n sinvolle verhouding gewikkel is. In die proses word ook die sinisme en vertwyfeling agtergelaat en kom daar ’n sterk geestelike verdieping.

Te maklik? Te yl? Dit is gewoonlik gevaarlik om ’n nuwe werk van ’n gevestigde skrywer in isolasie te beskou. Kritici is onkant gevang deur Van Wyk Louw se Nuwe verse met sy eenvoudige, enigsins saai titel ná die klinkende en betekenisvolle titels van die bundels wat dit voorafgegaan het.

In Louw se werk het hierdie bundel ’n nuwe rigting aangedui, van onder meer die “oper” vers en die (her)ontdekking van die volkse en aardse.

FouchĂ© is duidelik op ’n tweesprong waar ’n nuwe koers ingeslaan moet word. Hierdie novelle is iets van ’n bestekopname en tussenstand wat hopelik sal lei tot nuwe hoogtes.





Klik vir meer inligting
Ek is maar ene deur Dot Serfontein
R140.00
Volksblad - 2010-08-21
Verskeie redes om Dot Serfontein-verhale te geniet - Stoffel Cilliers

DAAR is mense wat Dot Serfontein se boeke geniet omdat sy so ’n goeie verteller is. Ander verlustig hulle in haar humor. Nog ander beskou haar as een van ons beste uitbeelders van mense.

Oordeel self hoe vertel sy van oom Piet Koekemoer – en hy is letterlik maar ’n hálf-mens:
“Sy onderlyf en stokkiesbene, soos diĂ© van ’n sprinkaan teen sy lyf opgetrek, sou in ’n groot papiersak pas. Hy het soos ’n vlermuis die straat afgeflapper, kon hom ongelooflik rats van die grond af opraap en bo-op ’n toonbank spring. Hulle het vertel dat hy dan voor by die meisies se rokke inloer” (bl. 57).

Só lyk maar één van talle werklike mense wat uitgebeeld word in dié ryk-geskakeerde bundel wat aanvanklik in 1972 verskyn het.

Dit bevat vyf sketse oor die skrywer se kinderjare, drie vrolike gesinsvakansievertellings; vier Kalahari-kontreivertellings en twee oor die Oranjerivier-mense.

Almal word gekenmerk deur die doelgerigtheid en veelsydigheid van ’n skrywer wat werklik iets betekenisvols het om mee te deel. Lig sy jou in oor die Kalahari of Oranje, doen sy dit met selfversekerdheid omdat sy wyd en deeglik nagevors het.

Vermaak sy met guitige vakansiestorietjies, huiwer sy nie om selfspottend te erken sy sal “nooit wen wat vakansies betref nie”.
Met boervrou-ervaring laat die skrywer die kollig val op die onblusbare geesteskrag en deursettingsvermoë van die baanbrekers van die Kalahari en die Oranje.

’n Juweel is Die huis van papier oor die mooi, middeljarige Kalahari-vrou wat pale en sifdraad met spaarbussiegeld gekoop en daarna met leĂ« sementsakkies vir haar man en vier kinders ’n drieslaapkamerhuis gebou het. “Van binne blom die geloofsdade van Kit Jacobs nog in onverbleikte glorie” (bl. 143).

Die skrywer tower talryke stories oor die Kalahari op: oor die donkie, eintlike makmaker van daardie woestynwĂȘreld; oor hoe vele boere op hul plase regkom sonder drinkbare water; oor Kalahari-motors wat vindingryk omgebou word; oor ’n 42-jarige boer wat nog nooit ’n dorp gesien het nie.

Dot Serfontein bestryk ’n besonder wye doek as sy oor die Kalahari skryf. Sy doen dit só oorspronklik, só oortuigend, só onderhoudend, dat dit slegs ’n verbeeldinglose mens moet wees op wie haar woordprentjies nie ’n indruk laat nie.

“Die ou taai man daar anderkant” het die besproeiingsboere eers die Grootrivier (vandag die Oranje) genoem. Pioniers. Daar was onder meer eerw. Christiaan Schröder en die beminde Japie Lutz met sy uitsonderlike ingenieursvaardighede.

Die skrywer skryf met voldoende afstand op haar kinderjare en familie om objektief te kan wees. Sy skerts selfs, maar kleineer nooit nie. Die welsprekende Serfonteins, vertel sy, was “sogenaamd verskriklik menssku” – só erg dat hulle daarvan ’n “vertoning” gemaak het.

By al haar skryfvaardighede pas Dot Serfontein die toonaard van haar styl uitstekend by die situasie aan. Soos waar sy skielik, midde-in ’n vrolike verhaal, ademloos gelaat word toe sy besef waarom Leipoldt sy as dáár wou laat strooi, in die Pakhuispas, “waar van mense niks is nie, maar van stilte alles” (bl. 97).

Hierdie bundel het verskeie verdienstes. Daar is vele intelligente insigte wat slegs op ervaring kan berus. Ook ’n fyn aanvoeling vir die vloeiende kombinasie van siening en segging. Ten slotte bevat dit die gehalteskryfwerk wat sinoniem geword het met die naam Dot Serfontein.




Klik vir meer inligting
Lukas die geliefde geneesheer deur Louise Prinsloo
R160.00
Beeld - 2010-07-26
Die verskyning van Louise Prinsloo se boek, Lukas, die geliefde geneesheer, is ’n groot letterkundige gebeurtenis vir opbouende leesstof vanuit die godsdienstige bodem. Dit is ’n Bybelroman. Dis ook fiksie in ’n genuanseeerde sin van die woord (sien later). Dis eintlik ’n geskiedskrywende vertelling (narratief). Want dit is die vertelling oor iemand wat eens op ’n tyd in die Midde Ooste gelewe het.
Soos dit ’n bekwame en wetenskaplik-geöriĂ«nteerde historikus betaam, het Louise Prinsloo die primĂȘre en sekondĂȘre bronne opgespoor, dit geweeg en die bestes geselekteer. Toe het sy die gegewens in die korrekte maatskaplike, politieke en godsdienstige konteks geplaas en geĂŻnterpreteer. Uiteindelik het sy die re-konstruksie van die geskiedenis en die konstruksie van haar Bybelroman afgerond deur die onontbeerlike fakulteit van ’n wetenskaplike verbeelding effektief te aktiveer op die fokuspunt en tema van haar roman, naamlik die lewe en prestasies van Lukas van die Nuwe Testament. Die resultaat was ’n geloofwaardige, boeiende en uiters leesbare boek oor dokter Lukas. Dit is waarskynlik die éérste verbeeldingryke roman van hierdie aard en op so’n verantwoorde akademiese vlak oor Lukas !
Lukas word vanaf die pedestal as óór-geromantiseerde Bybelfiguur geneem en bekyk as ’n ‘mens soos óns’ (soos die profeet Elia in Jakobus 5:17 getipeer word). Hy leef, loop, werk en speel sy rol, uiteindelik as Christus-gelowige mens, in die harde werklikheid van die alledaagse lewe in Palestina en Wes-Turkye in die Midde Ooste gedurende die eerste eeu van die Algemene Era (Christelike Jaartelling).
Lukas is egter nie ’n fiksie-figuur in die sin van ’n verbeeldingsvlug en produk van wensdenkery soos Harry Potter nie. Die fiksie-karakter van Lukas is ’n tekening van hom op grond van Ă©n deur middel van die skrywer se wetenskaplike rekonstruksie van die geskiedenis en haar wetenskaplike verbeeldingskrag. Sy sĂȘ dus niĂ© dit is presies soos wat dit wĂĄs, gebeur het en hĂłe Lukas presies was nie. Sy sĂȘ slegs dat volgens haar geloofwaardige rekonstruksie van Ă©n gekontroleerde verbeelding oor die leefwĂȘreld van Lukas se tyd kĂłn Lukas net sowel sĂł gewees het en kĂłn dinge sĂł gebeur het !
Louise Prinsloo teken Lukas, alias Lukanus, as ’n sterk en baie aantreklike jongman in die tyd van die Egiptiese vors Ptolemaios XV, kleinseun van die wĂȘreldbekende (niĂ© so beeldskone !) koningin Cleopatra. Ons sien en beleef hom as universiteitstudent op die kampus van die eerste Universiteit op die Vasteland van Afrika, die Museion van AleksandriĂ«. As hofarts vir keiser Tiberius (14-37 n.C.), as skeepsdokter, huisarts vir onder aandere sy wĂȘreldbekende pasiĂ«nt Paulus van Tarsus. As mede-sendeling saam met Paulus en andere, en as navorser van die geskiedenis van Jesus van Nasaret (Handelinge 1:1,2) en as mede-skrywer van die Nuwe Testament wat ’n groter bydrae tot die Nuwe Teastament as Paulus gemaak het. En ja, skrywer van een van die vier Goeie Tydings (Evangelies) Ă©n as die éérste kerkhistorikus van die Christendom met sy boek Handelinge van die Apostels.
Die Bybelroman oor Lukas word op baie leesbare, treffende en kommunikatiewe wyse aangebied deurdat dit Lukas se doene en late teken soos wat hy van plek tot plek gaan en oor sake en dinge en gebeurtenisse direk persoonlik met mense van sy tyd praat en sy menings gee en kommentaar lewer. Soos enige roman tewens mos doen.
Louise Prinsloo se biografiese Bybelroman oor dokter Lukas begin met ’n verrassende rubriekie ‘Vooraf’, dit wil sĂȘ, vóór Hoofstuk 1. Sy beskryf die bejaarde Lukas wat sit, ‘ (B)by ’n kliptafel onder ’n welige groen prieel van ’n statige villa in AntiochiĂ«.’ AntiochiĂ« in SiriĂ« is Lukas se geboortestad. Hy is besig met sy laaste lewenstaak, naamlik die skryf van Handelinge van die Apostels, die eerste geskiedeniswerk, die eerste Annale oor die jong en dinamiese beweging, die Christendom. Hy is nie nou meer die aanbidder van Zeus, die hoofgod van die Grieke nie. Om hierdie geskiedwerk te kan skrywe, het hy óók soos ’n bekwame en betroubare historikus navorsing in outentieke bronne gedoen ! SĂł was hierdie pionier kerkhistorikus dan in staat om, ‘

.die verhaal noukeurig in die regte volgorde vir u neer te skryf ’
(Handelinge 1 :1-2).
Die Bybelroman bestaan uit drie dele met altesaam dertig hoofstukke. By die aanhef van elke hoofstuk is daar ’n gepaste aanhaling van ’n welbekende en beroemde skrywer uit die Ou-Testamentiese-, Klassieke-, Hellenistiese-, en Nuwe-Testamentiese eras. Selfs van Confucius (551-479 v.C.) (p.250).
Die Uitgewers Protea Boekhuis moet geluk gewens word met die keurige versorging van die boek. Dit lees baie maklik met die groter formaat letters in Palatino Linotype lettertipe (font) in wyer spasiëring.
Louise word van harte geluk gewens met hierdie voortreflike Bybelroman wat van jarelange en indringende navorsing getuig. Sy het selfs besoeke aan die plekke en gebiede van Lukas se omwandelinge afgelĂȘ.
Die boek word van harte aanbeveel vir lesers van die kerklike gemeenskappe sowel as in die besonder van die sekulĂȘre gemeenskap.

Herman Lombard is ’n Emeritus Professor in Nuwe-Testamentiese Studies van Unisa




Klik vir meer inligting
Ek is maar ene deur Dot Serfontein
R140.00
RAPPORT - 2010-06-27
Heruitgawes nog boeiend en relevant - Thys Human

In haar outobiografie, Vrypas (2009), veroorloof Dot Serfontein (sy het vanjaar 85 jaar oud geword) haar die vryheid om te vertel van dinge waaroor sy voorheen geswyg het en om te swyg oor dinge wat sy voorheen vertel het.

Ná 80 word die oorlewendes, volgens haar, “’n vrypas gegee (
) om te doen of te laat net waarvoor hulle lus is sonder dat dit teen hulle aangeteken staan” (bl. 11?-?bl. 1?212).

Vir lesers wat dus nuuskierig is om Vrypas met vroeĂ«re outobiografiese vertellings van Serfontein te vergelyk, is daar die goeie nuus dat twee bundels sketse uit die 1970’s onlangs deur Protea Boekhuis heruitgegee is – Amper my mense (2009) en Ek is maar ene (2010) wat onderskeidelik in 1974 en 1972 by Human & Rousseau verskyn het.

Eersgenoemde bundel bied veral ’n terugblik op Serfontein se persoonlike erfenis en die belewenisse van haar hartsmense tydens die Anglo-Boereoorlog, die depressiejare en die Rebellie in 1914 in die Vrystaat.

Die sketse in Ek is maar ene kan breedweg in drie kategorieë verdeel word.

Eerstens is daar vertellings oor Serfontein se eie kinderjare in die Vrystaat (“Hoenderkraai”, “Die vertoning”, “’n Stil begrafnis”, “Ek is maar ene” en “Die goeie Jood”).

Dan is daar onderhoudende mededelings oor (gebeurlike) gesinsreise na die Wes- en Noord-Kaap wat vir dramastudente opwindende vertolkingsmoontlikhede bied (“Met kinders en koeldrank op reis”, “Die hanetree” en “Vakansie op S-se-B”).

En derdens is daar effens langer sketse soos “Die donkie het hom makgemaak”, “As die matompas trek”, “Die huis van papier” en “Om van diens te wees” waarin die geskiedenis van die Kalahari en sy kleurvolle mense op anekdotiese wyse geboekstaaf word.

Die twee essays “En die oranje vloei verby” en “Die ou taai man anderkant” bied boonop waardevolle agtergrondinligting vir enigeen wat Louis Kruger se roman Die wederkoms wil nadertrek.

Volgens Flannery O’Connor het enige mens wat sy of haar kinderjare oorleef het – en hierby wil ’n mens ook voeg die kinderjare van sy of haar kinders – waarskynlik genoeg stof om ’n hele paar boeke kan te skryf.

Die ding is net dat almal nie die talent het om dit so rĂĄĂĄk soos Dot Serfontein te verwoord nie.

Haar vertellings is eerlik, pretensieloos en dikwels skreeusnaaks. Gelukkig bring dié homoristiese aanslag nie mee dat karakters as stereotipes of karikatuuragtig uitgebeeld word nie.

Inteendeel. Serfontein beskryf haar karakters só fyn dat ’n mens byna voel jy het hulle self geken.

Tydens ’n besonder rampspoedige gesinsvakansie merk sy byvoorbeeld die volgende oor haar wederhelf op: “Veral hou ek daarvan om die dik beduiwelde gesig van K-se-P hier langs my te sien. Ek hou daarvan dat ’n mens dit moet wys as hy seerkry. G’n niks die beste van ’n slegte saak maak en dapper glimlaggies opstel in die tande van teenspoed nie. Jy moet jou nederlaag soos ’n skildvel dra, ratelend, en vir ander tot skrik.” (bl. 200)

Maar dit is eintlik vroue – en dikwels besonder selfstandige en eksentrieke vrouefigure – wat die belangrikste rol in Serfontein se sketse speel.

Daar is byvoorbeeld Martie Burger – vroed- en doktersvrou van die Kalahari – vir wie mans te stadig en onbetroubaar is; Christina (Kit) Jacobs wat “met sagte, trillende stem vertel” hoe sy haar Kalahariplaas, Drieling, mak gemaak en eiehandig ’n huis van papier daarop gebou het; en Martie Burger, “die vier voet hoĂ« deel van elke mens wat vry en ongebonde en jonk is” (bl. 181) wat haar lewe lank touleier was en water soos ’n seun gelei het.

In plaas van soveel ander “ekkerige” kontreivertellings waarin sentiment en nostalgie die botoon voer, bestaan Ek is maar ene uit vertellings wat ondanks hul oorspronklike publikasiedatum steeds relevant en boeiend is.

* Prof. Thys Human is dosent in letterkunde en hoof van die departement Afrikaans aan die Universiteit van Johannesburg.





Klik vir meer inligting
Die Suid Afrikaanse Gids deur Isabel Uys
R250.00
Volksblad - 2010-05-14
Gids bied magdom feite vir kennisdorstiges

Hierdie is ’n ontsagwekkende naslaanbron wat die leser verstom met die omvang en verskeidenheid van inligting wat aangebied word, deurgaans in ’n hoogs verteerbare, bondige en kleurryke formaat.
Dit kan met reg beskryf word as ’n volledige inligting- en oorlewingsgids vir inwoners van en besoekers aan Suid-Afrika.
Die boek is verdeel in twee afdelings, die eerste wat spesifiek fokus op wetenswaardighede van Suid-Afrika, insluitend die bewoording van die volkslied, inligting en voorstellings van die land se nasionale simbole, geografiese inligting oor die land, soos die hoogste bergpieke en belangrikste damme, tot belangrike mense wat die land opgelewer het, literĂȘre pryse en feite oor die land se geskiedenis, natuurlewe en sport.

Die tweede afdeling bevat algemene inligting. Hier raak dit eers interessant. Die volgende wenke word onder meer verskaf:
Wenke vir geluk
Ontwikkeling van ’n goeie selfbeeld en selfvertroue
Goeie tafelmaniere
Studiewenke
Huisbeveiliging
Die voor- en nadele van huiskoop vergeleke met die huur van ’n woning
Voedselwenke
Boererate
Inligting oor operasies en prosedures.
Ander waardevolle inligting wat vervat is, sluit in ’n lys van benodigdhede wat op ’n staptog ingepak en saamgeneem moet word, en ’n aanduiding van die korrekte optrede by ’n motorongeluk.
Dit is ’n boek wat nie op die koffietafel vergeet moet word nie – waar dit in elk geval baie funksioneel sal wees om gesprekspunte te verskaf wanneer die kuier te lank raak. Dit behoort ingepak en saamgeneem te word op enige reis, want dit verskaf inligting oor letterlik enige geografiese, historiese of ander plek van belang waarlangs gereis sal word.
Enkele kleiner feite- en proefleesfoutjies is wel in die gids waargeneem. In die afdeling oor plekname in Suid-Afrika word verkeerdelik aangetoon dat Vryheid, die dorp in KwaZulu-Natal, die hoofdorp was van die kortstondige Boererepubliek Stellaland, terwyl dit in der waarheid Vryburg in Noordwes was. Onder die proefleesfoutjies tel “skripbreukelinge” pleks van “skipbreukelinge”.
Hierdie naslaanbron is egter so waardevol dat hierdie foutjies nietig is vergeleke met die vreugde van die magdom interessante inligting wat die gids verskaf.
Veral in ’n huis waar baie vrae gevra word en lang paaie dikwels aangedurf word, kan dit ’n noodsaaklike hulpmiddel word om die kennisdorstiges se nood te stil en lang ritte in ontdekkingsreise te omvorm.

Christo van Staden, assistent-redakteur, Volksblad



Klik vir meer inligting
Miriam dans deur Elise van Wyk
R169.00
Jean du Plessis - 2010-04-19
MIRIAM DANS

Elise van Wyk

Ten spyte van ons gay-vriendelike grondwet wat diskriminasie verbied, is daar steeds ’n ontstellende vlak van onkunde oor seksuele oriĂ«ntasie in ons samelewing. Gay, lesbiese, biseksuele en transgender mense ervaar daagliks verwerping en diskriminasie, dikwels juis deur diĂ© mense van wie hulle aanvaarding en ondersteuning die nodigste het. ’n Publikasie soos Miriam Dans kan ’n belangrike bydrae lewer om wanpersepsies oor hierdie mense uit die weg te ruim.

In die afgelope dekade was daar boeke soos Oor Gay Wees (basiese inligting oor gay-wees), ’n Kas is vir Klere (’n persoonlike reis na selfaanvaarding), Gelowig en gay? (’n inklusiewe teologiese perspektief) en Jy bly my Kind (perspektiewe van ’n ouer van ’n gay dogter). Miriam Dans, ’n bundel verhale van lesbiese, biseksuele en transgender vroue, vul egter ’n ander leemte. Die sentrale tema wat deur al hierdie verhale loop, is die sinvolle integrasie van seksualiteit en spiritualiteit. Miriam Dans maak ’n besondere bydrae deur die skep van ’n unieke geleentheid om saam met ’n wye spektrum vroue die innerlike belewing van hulle situasies mee te maak. Alle mense beleef nie hulle gay-wees eners nie, maar hierdie brawe vroue was bereid om hulle verhale met eerlikheid en openheid te vertel. Dit verg moet om jouself só bloot te stel ter wille van ’n groter ideaal – om begrip by die samelewing te bevorder.

Miriam Dans bied ’n spreekbeurt aan mense wat dikwels nie ’n stem het nie – en die vroue wat hierdie boek moontlik gemaak het, praat eerlik en uit die hart uit. Hulle kulturele en akademiese agtergronde, ouderdomme en taalgebruik verskil. Elke verhaal het ’n tema eie aan die spesifieke vrou – en die skrywer het, waar dit nie verbatim weergegee word nie, met groot omsigtigheid te werk gegaan om die integriteit van elke verhaal behoue te laat bly. Die voortdurende interaksie tussen verteller en skrywer/biograaf, het bygedra tot afgeronde en oortuigende verhale. Elise van Wyk is nie alleen ’n ervare skrywer met ’n grondige letterkundige agtergrond nie, maar haar empatiese werkswyse dui ook op ’n deeglike en intieme kennis van en ’n deurleefde aanvoeling vir haar onderwerp, en ’n inklusiewe beskouing van spiritualiteit.

Dit is nie moontlik om hierdie boek te lees sonder om emosioneel diep geraak te word deur sommige verhale nie. Die verwoestende impak wat godsdienstige fundamentalisme op die lewens van gay Christene kan hĂȘ, kom soms duidelik na vore. ’n Mens raak egter ook bewus van die vreugde van wedersydse liefde en die genesende krag wat vrygestel word deur persoonlike integriteit en die sinvolle uitlewing van wie jy werklik is. ’n Mens kan huil by die lees van Beth se verlies van ’n waardevolle vriendskap, en die onnodige pyn en verspeelde jare van Maxi en Irene, maar jy kan ook uitbundig lag vir Gorgeous Rose se heerlike humoristiese aanslag. Die dapperheid van mense soos Bulelwa, Nokuthula en Lesego, wat weet wat in hulle gemeenskappe met lesbiese vroue kan gebeur, verdien bewondering. Selfs die hartseer verhale, wat pyn, verlies en alleenheid uitbeeld, dra ’n boodskap van oorlewing en hoop. Die terapeutiese waarde wat die lees van hierdie vir gay, lesbiese, biseksuele en transgender (GLBT) mense kan bring, kan nie onderskat word nie. Miriam Dans bied egter ’n groei-ervaring, nie net vir hierdie mense nie, maar vir die hele samelewing, want almal van ons se pad kruis met diĂ© van GLBT mense, of ons daarvan bewus is of nie.

Een van die dinge wat dit vir my ’n besondere leeservaring gemaak het, was die mate waarin ek, as man, myself telkens kon verloor in die leefwĂȘreld van ’n diversiteit van vroue. Soveel aspekte van menswees is universeel. Daar is soveel meer ooreenkomste as verskille tussen ons, ongeag van lewensomstandighede en of jy man of vrou, homo-, hetero- of biseksueel is. ’n Mens bly bewus van die universeel-menslike aard van die behoeftes en strewes wat in elke verhaal in Miriam Dans na vore kom. GLBT mense is nie vreemde wesens nie; hulle is gewone mense met gewone behoeftes en ideale.

Hierdie boek, wat gelyktydig in Engels en Afrikaans gepubliseer is, behoort in elke pastorie en in elke hoërskool- en dorpsbiblioteek te wees.


Jean du Plessis
Strand, April 2010




Klik vir meer inligting
Vlam uit die vlaktes 'n keur uit die prosa van E de Roubaix deur Pieter Strauss (samesteller)
R150.00
Die Burger - 2010-04-19
Hennie Aucamp

Herinneringskuns in Afrikaans het ’n op­lewing gehad ná 1994, asof skrywers, filmers en ­skilders probeer vasvat dít wat aan die verlore raak is; iets wat verband hou met daardie ­ont­glippende begrip “identiteit”. Elsa Joubert, Engela van ­Rooyen, Dot Serfontein en Jaap Steyn kyk terug op lang en ­aktiewe loopbane; maar ook jonger skrywers kyk terug, sy dit op kleiner skaal, soos Danie Schreuder, Thijs Nel, David ­Pepler.
’n Ander soort herinneringskuns is Vlam uit die vlaktes; ’n keur uit die prosa van E. de ­Roubaix, liefdevol saamgestel en ingelei deur Pieter Strauss. Die andersheid van hierdie bundel lĂȘ hierin dat E. de ­Roubaix nie memoires geskryf het nie, hy het, soos die ou ­Hollandse meesters, “naer ’t ­leven” gewerk, en die daaglikse wel en wee opgeteken van arm en eensame lewens teen die strak landskap van Boesmanland, hier teen die begin, en ­dieper in, van die 20ste eeu. Die nostalgie wat Vlam uit die ­vlaktes wek, berus by die leser van vandag wat nie die tyd en wĂȘreld van Emanuel de ­Roubaix ken nie. Hier word hy voortreflik gelei deur Strauss.
Sy bundel is inderdaad ’n ­model van argivale restourasie. Dit bevat kaarte van Boesmanland, soos jy die boek oopmaak, en later weer toemaak, met plekname wat al klaar volks­poĂ«sie is, soos Swartkolkvloer, Dooddrink, Breekknie, Broekseputs, Verneukpan. Veral ­interessant is Strauss se ­verklaring later in die boek, omtrent die verskil tussen ’n “pan” en ’n “vloer”. Iets wat veral ­Engelse toeriste verwar, as hulle goeie kaarte van die Noordweste het wat wemel van “vloer”-uitgange. Soos Strauss, het ook M.E.R. in een van haar mooi stukke oor die Noord­weste daarop ­gewys hoeveel plekname met water skakel, soos Putsonder­water, Raaswater, Blinkwater, Louterwater.
Nog ’n pluspunt is dat Strauss die G.P.S.-koördinate verskaf vir ondernemende besoekers aan Boesmanland, iets wat toekomstige kontrei­skrywers gerus in gedagte kan hou. Waar, o, waar is Rougaga (28 095, 20 09E). En T’Konnes? (30 155, 1921E).
Maar stellig die ontroerendste toevoeging tot Vlam uit die vlaktes is die periode-foto’s wat Strauss uit privaatbronne en uit die Kaapse Argief by elke teks ingesluit het; van die ­aangrypendste, hartver­skeu­rendste diĂ© by “ ’n Troue ou siel” en “Maar ’n ou hotnot”. Ouderwets en tegelyk skokkend modern, soos W.G. Sebald se byhaal van fotomateriaal in sy boeke, is hierdie foto’s wat “werklik” kan wees, of sommer net “geleen”.
In hierdie skrywer se jeug het menige plaasbibliotekie E. de Roubaix se boeke gehad, soos Boesmanlandse Sketse en ­verhale en Giel Ool en ander ­verhale uit Boesmanland.
De Roubaix het baie sketse ­geskryf, maar selfs die ylstes bied jou iets folkloristies; gee iets van die wisselwerking ­tussen mens, dier en landskap. Vir my is die begrip “skets” meesal ’n eufemisme vir ’n ­onderontwikkelde en onder­geĂŻnterpreteerde mededeling, en van diĂ© soort is daar meer by De Roubaix as wat ’n mens wil toegee, maar aan die anderkant het hy ook sterk gestruktu­reerde kortverhale geskryf, soos die drie waarmee Strauss sy bloemlesing afsluit, en wat ’n natuurlike drieluik vorm, naamlik: “?’n Troue ou siel”, “Maar ’n ou ­hot­not” en ­“Middele van die Albestierder”.
Verhale soos die pas gemeldes wys vooruit na latere Boesmanlandse kort­verhaalskrywers, soos A.A.J. van Niekerk, George Weideman, Elias P. Nel, Thomas Deacon en ­natuurlik Strauss self. Al drie verhale is dramaties, en speel teen natuurgeweld af.
“?’n Troue ou siel” handel oor ’n wolkbreuk wat ’n man en vrou se lewe eis, ook diĂ© van hul troue Koranna-versorger; al wat oorbly, is ’n hulpelose baba. In die verhaal “Maar ’n ou hotnot” sterf ’n ou skaapwagter ­uiteindelik weens die koue ­winter en die harteloosheid van sy werkgewer; en in “Middele van die Albestierder” is die ­antagonis die Grootrivier wat in vloed is en ’n seun op ’n ­eiland in die rivier afsonder. Dis eers nĂĄ dae dat ’n skaap­wagter, Oliepot, dit waag om met ’n stomp oor te roei na die eiland en Driesie te gaan red. (Wie ’n volledige beskrywing van die kap en maak van’n roeistomp wil lees, kan gerus ­Deneys Reitz se Trekking on raadpleeg.)
Sentraal in al drie verhale is ’n bruin mens , in die geval van “’n Troue ou siel” ’n ­Koranna- vrou.
Die Boesman in die Suid-Afrikaanse letterkunde kry tans die deskundige aandag van Helize van Vuuren, maar iemand moet ook die Koranna en die ­Griekwa vir sy of haar rekening neem. Die mooiste verhaal in Dwaalstories van EugĂšne ­Marais, “Die dans van die ­reĂ«n”, is byvoorbeeld ’n ­Koranna-storie, en Toon van den Heever se twee Outa ­Sem-verhale draai om die ­Griekwa-egpaar, Sem en Koema.
Die empatie van E. de ­Roubaix met die bruin karakters in die drieluik onder ­bespreking, maak van hom ’n vroeĂ« ­“struggle”-skrywer, al sou diĂ© woord hom laat skrik het. Wat uit sy verhale blyk, is dat nie ­alle wit mense van sy tyd die bruin mens as ewemens aan­gesien het nie.
Maar De Roubaix se eie geestes­adel is weldeeglik ­raak­gesien deur die skilder Erich Mayer wat ’n mooi ­karakter­studie van hom ­geteken het, en van De Roubaix geskryf het: “Veel studie het ­hyself nie kon geniet nie, maar uit sy pen het ons die kostelikste sketse van Boesmanland se boerelewe, soos niemand dit ooit weer sal skryf nie.”
Hierdie aanhaling kom uit Strauss se “Nawoord: Op die spoor van Emanuel de Roubaix”. Strauss kan nie genoeg geloof word vir sy veldwerk nie. As hy nie betyds bandopnames by E. de Roubaix se bejaarde seun Willem gemaak het nie, was ons kennis van die skrywer De Roubaix baie skraps.
Die Akademie kan dit gerus oorweeg om ’n E. de Roubaix-prys vir kontreikuns in te stel.

Hennie Aucamp is ’n skrywer van Kaapstad.



Klik vir meer inligting
Platsakwenke deur Carla van der Spuy
R70.00
Madibeng Pulse - 2010-02-18
Aarbeie vir jou tande, kasterolie as oogroom, tandepasta om jou koppies mee skoon te maak of koffiemoer om verstopping van pype te verhoed?
Ek was so nuuskierig oor die wenke in Platsak Wenke: 600 Wenke Om Jou Beursie Te Rek dat, toe ek ‘n eksemplaar in die hande kry, ek dit per kers- en flitslig in die bed gelees het toe ons buurt se elektrisiteit af was.

Dit lees lekker, maklik, en kan wel ‘n erfstuk word soos Ouma se kookboek, want die meeste van die wenke is tydloos.

Goedkoop hoef nie op die ou end duurkoop te wees nie. Platsak Wenke lees nie net lekker nie, maar het soveel wenke in hom dat elkeen, oud en jonk, baat daarby sal vind.

Cynthia Dreyer



Klik vir meer inligting
Agter Geslote Deure deur Johan Botha
R129.00
NAOMIE VICTOR - 2010-02-08
Agter Geslote Deure: Is dit nie maar waar almal skuil nie?

Hierdie boek het my diep gegryp met die openlike eerlikheid en self ontbloting van die skrywer. Om 35 jaar lank teen almal en alles te baklei ,waar jy jou mag bevind, is nie ‘n grap nie. Selfs teen die mense wat veronderstel is om jou lief te he en te beskerm. Hoe word mens heel? Hierdie vraag vra ek terwyl ek die boek lees en die pyn sien waarmee hierdie kind stry.

Die boek gryp die diepste menswees aan dat die hele 35 jaar se lewe verby gaan en niemand in die sissteem is daar nie. Waar is die GROOTMENSE EN DIE PROFESSIONELE MENSE?

Die skrywer het ook ‘n teenstrydige gevoel rondom Godsdiens, Christenskap en ja waaarom doen die Here dit ? Hy vra dit ook in die boek. Dit laat my dink aan Ps. 139 : 13 “ U het my gevorm, my aanmekaar geweef in die skoot van my moeder “ Die skrywer se dat die Here sy pa as instrument gebruik het dat hy anders is, maar se ook dat mense hul christelikheid op hom wil afdwing.

Ek lees die hunkerin g na ‘n anker in die lewe van hierdie gebroke mens.

“ HARD EN BAIE VER IS DIE SEMENT “ van die hoe gebou waar hy uitloer uit die woonstel, maar die lewensloop is ook hard en ver, soos ons dit in die boek lees.

Johan is beroof van sy kindwees. Op 5 jarige ouderdom moet hy sy ma bystaan met geboortes, ‘n pa vir die kleiner kinders wees en ja sielsgenoot vir sy ma wees. Hy aanskou die geboortes en die dood van sy jonger broers en susters. Dit verstom my dat hy so volwasse op daardie ouderdom is.

Hoekom het die eerste professionele persone nie opgetree toe hulle bewus geword het van sy situasie nie? Was al die Grootmense blind?/gerieflik blind? Onderwysers, ander volwassenes en ja sy ma!

Deur die boek is hy net positief oor sy ma. Aan die einde van die boek verdwyn sy en vra ek myself of sy lewe en of sy ook deur pa gedood is. Hierdie ma is die spreekwoordelike “ battered wife” .

Johan is die duim aan die hand wat uitsstaan en niemand sien hierdie gesin raak nie. Hy neem die seer van almal op hom deurdat sy pa hom, mishandel, verkrag, verag ens.

Deur die jare 60 was daar tog ook maatskaplike werkers betrokke en wel ook by hierdie behuisingskemas. Hoekom het ons hierdie kind gefaal?

Die meisie met die swart hare by die kerk, wat het jy met die inligting gemaak nadat Johan dit vir jou vertel het?

“ MAMMA WAAR IS JY ? “ skree die skrywer deur die boek.

Die mediese dokter Petrus, sien ook dat hierdie beserings definitief nie die val op die muur/heining is nie, maar













..Hy sien die seer anus, wat die kind nog vir ander kan wegsteek, maar











.Hoekom bel hy nie die Welsyn nie/SAP, wat stop hom? Weereens word Johan deur die sisteem gefaal.

Die beeldspraak deur die boek wat vergelyk word met die see sterretjie, die branders wat slaan en die vissies wat deur voete gedood word in die poeletjies, gee ‘n aanduiding van die gemoed van hierdie jong man.

Hanna speel ook ‘n irriterende rol in Johan se lewe. Deur daar te wees, is goed, maar sy wil die “andersheid “ van Johan wegvat. Johan het iemand nodig, maar skryf dat sy ook nie inpas in sy lewe nie. Miskien wil die skrywer sy moedersbeeld hier soek, want die moeder verdwyn skielik.

Ek sou bietjie meer van sy grootmenslewe en selfs meer van die koshuisdae wou weet. Was dit meer positief of het die seerkry aangegaan en deur wie?

Baie geluk met die plotbesoek. Ek weet nie of almal so sou vergewe nie, maar die skrywer sluit hiermee goed af. Die pa is ook verniel deur die lewe en nou kan die leser verbeelding gebruik wat met die pa gebeur het om hom so maer te kry en die die lewensloop van die vernieler van Johan se lewe. Of moet ek se : “ Hennie “ soos sy pa hom slegs een maal in die boek genoem het. Wat het Hennie in die boek gesoek ?

Ek wil die skrywer gelukwens met hierdie boek waarin hy homself so blootstel en ook aan ander kinders wat in soortgelyke situasies was of is die wys dat daar lewe na die hel is. Johan se in die eerste hoofstuk dat mens beheer van jou lewe moet neem! GELUK DAT JY DIT GEDOEN HET.

NAOMIE VICTOR
MAATSKAPLIKE WERKER
37 JAAR ERVARING




Klik vir meer inligting
Vroue bly gesond lewenslank deur Dr Sarah Jarvis
R369.00
Rooi Rose - 2010-01-01
Dit is ’n uitsonderlike mediese handboek/ensiklopedie gemik op vroue en al hul lyflike (en psigiese) dinge. ’n Gesaghebbende boek saamgestel deur van die wĂȘreld se voorste vrouedokters, onder leiding van die bekende dr. Sarah Jarvis.
Die boek lees maklik en lekker. Dit is in dekades ingedeel (vanaf jou tienerjare tot in jou tagtigs) en illustreer wat jy kan verwag van jou liggaam. Dit dek ook siektes en ongesteldhede.
Die indeks is verstaanbaar, die jongste mediese prosedures en tipiese simptome vir bekende en minder bekende siektes word bespreek. Netelige kwessies soos drank- en dwelmmisbruik, kanker en die aftakeling in die ouderdom word klinies, nugter en openhartig benader.
Dit is ’n noodsaaklike handboek vir elke vrou wat ’n sinryke, gebalanseerde lewe wil lei – keurig, slim en oorkoepelend. Dis vanjaar met die Britse Mediese Vereniging se prys in die kategorie PopulĂȘre Geneeskunde bekroon.


Ronel Nel



Klik vir meer inligting
Die tyd van die kombi's deur Koos Kombuis
R190.00
Die Burger - Boekeblok - 2009-11-09
DIE TYD VAN DIE KOMBI‘S - Koos Kombuis
ANDRIES BEZUIDENHOUT

­Hulle sĂȘ dieselfde berg kan heel ­anders lyk, afhangende van die ­rigting waaruit jy dit besigtig. Dis nou 20 jaar nĂĄ die VoĂ«lvry-toer waarin die musikante Johannes Kerkorrel, AndrĂ© Letoit (nou ­bekend as Koos Kombuis) en ­Bernoldus Niemand (ook bekend as James Phillips), saam met hul bestuurder Dagga-Dirk Uys, ­geskiedenis in Afrikaanse musiek ­gemaak het.
Waar VoĂ«lvry vir baie Afrikaners van my geslag ’n bevrydende ervaring was, is dit steeds vir ­Kombuis ’n traumatiese tydperk van sy lewe. Met Die Tyd van die Kombi’s gee Kombuis ons ’n blik op sĂœ kant van die saak. “Want ek was daar. In die tyd van die Kombi’s,” skryf hy. In sy vorige outo­­biografiese werk, S eks & Drugs & ­Boeremusiek (2000), het hy steeds nie kans gesien om in besonder­hede daaroor uit te brei nie.
Van Kombuis se kant van die berg probeer die boek nie juis om die impak van VoĂ«lvry op die Suid-Afrikaanse politieke landskap te beoordeel nie. Baie beskou die toer as ’n politieke keerpunt onder Afrikaners. Ander voel weer dit het bloot saam met die tydsgees se stuiptrekkings geskop. Afrikaners was in elk geval besig om te ­­­ver­ander. Hulle was moeg vir diensplig, sanksies en die bomme in daardie winkelsentrums wat ­toenemend die plek van die kerk as ­stedelike verwysingspunt in­­ge­neem het. Mense wat hiĂ©rin belang stel, kan Pat Hopkins se boek VoĂ«lvry: The Movement That Rocked South ­Africa (uitgegee deur ­Jacana) lees. Hy plaas VoĂ«lvry ook in die konteks van die geskiedenis van Suid-Afrika en Afrikaanse ­musiek. Saam met die boek kry ’n mens ’n DVD van Lloyd Ross se insig­gewende dokumentĂȘre program, wat oor VoĂ«lvry handel.
Dan is daar Albert Grund­­lingh se uitstekende artikel “Rocking the boat in South Africa? VoĂ«lvry music and Afrikaans ­anti- apartheid social protest in the eighties,” wat in 2004 in die Inter­national Journal of African Historical Studies gepubliseer is. Grundlingh se argument is dat ­VoĂ«lvry ’n uit­gestelde 1960’s-revolusie in die Afrikanergemeenskap ver­teen- woor­­dig, maar ook dat ’n mens nie die gebeure se politieke impak moet oorskat nie. Op die ou end kan die toer nie as ’n standhoudende ­sosiale beweging beskryf word nie.
Kombuis self is baie versigtig om nie die impak van VoĂ«lvry te ­oorskat nie. Hy wys daarop dat daar talle ander kunstenaars was wat soortgelyke boodskappe ­oor­gedra het. Die storie word on­der­­houdend van­uit die perspektief van die hede ­geskryf. Dis ’n Koos Kombuis wat liefde en stabiliteit ­ge­vind het wat terugkyk, maar steeds op sy ­ken­merkende wyse vanaf die heup skiet. Dit val op hoe hy sy kant van die saak ­probeer stel in vele van die bitter gevegte tussen hom en mense soos Johannes Kerkorrel, Dirk Uys en Anton ­Goosen. Maar dis ook ­duidelik dat hy met sy voormalige vyande ­probeer vrede maak.
’n Paar baie interessante vrae word gestel oor persoonlike ­keuses en die verloop van die ­geskiedenis. Kombuis wonder oor die aan­sluiting tussen kabaretvertonings soos Piekniek by Dingaan en die rock-inslag van VoĂ«lvry. Wat sou gebeur het as daar ’n skerper verdeling ­tussen teater en die meer populĂȘre rock-optredes was? Kombuis ­be­spreek dit as ’n persoonlike ­kwes­sie wat rondom toeval en ­keuses draai, maar ek dink dit is vrae wat vandag nog ­relevant is. Bowenal gaan die boek oor die ­persoonlike koste wat groot figure in die wĂȘreld van populĂȘre kultuur soms betaal. Dit gaan oor dwelms en per­spektief.
Vir ’n tyd lank is dit “ons” teen “hulle”, maar as die toer verby is, skop die afguns en ­paranoia in wat kunstenaars­persoonlikhede so laat bots. Die blik vanuit die Kombi wys hoe ­onstabiel hiĂ©rdie vorms van ­verset noodwendig is. Twintig jaar nĂĄ VoĂ«lvry is die rock-rebellie natuurlik nie verby nie. Die Kombi’s kry waarskynlik nĂłĂș eers werklik momentum. Daar is juis vanjaar ’n dokumentĂȘre film oor Fokofpolisiekar uitgereik. ’n Mens hoop dat die ­jonger gene­rasie Kombuis se boek sal lees. Dis ’n ­bekom­merde Kom­buis wat hier skryf: “Mag hierdie boek die nuwe geslag die moed gee om die foute te vermy wat ons gemaak het, en ook die moed gee om die rebellie verder te voer indien nodig.”
Soos hy sal weet, dink elke ­generasie egter hulle is die eerste rebelle wat van die bergpieke af skree. Maar dalk is dit belangrik vir ’n ­nuwe generasie om uit te vind wat sĂȘ die enigste een van die ­VoĂ«lvry-drie wat oorleef het. Wat doen jy as jou Kombi aan ’n donker kant van die berg stilhou?


Andries Bezuidenhout is ’n sosioloog, digter en sanger.



 1  |  2  |  3  |  4  |  5  |  6  |  7  |  8  |  9  |  10  |  11  | >>

( 160 resensies gevind )
'n Produk van CEIT Development cc