Hetta Elizabetta en die wêreld op haar skouers

Klik om te vergroot
Klik om te vergroot
9780620723831

Kinders: Prenteboeke

Illustreerder: Marisa du Toit
R 150
Die tweede boek in Murray&Me se idioom-reeks, 'Hetta Elizabetta en die Wêreld op haar Skouers', is pas vrygestel en is 'n noodsaaklike toevoeging tot enige kinder-boekrak. Die boek is geskryf deur die aktrise Milan Murray en kleurvol illustreer deur Marisa du Toit.

Die afwesigheid van idiome in kinders se wêreld, was die motivering vir die reeks. Die boek is in rym geskryf met 'n fokus op alliterasie, assonansie en metrum. Die eerste idioom-boek 'Pieter Kokkewieter en die Hart op sy Mou' het verlede jaar verskyn en bykans 2000 eksemplare is reeds verkoop.

Die Murray&Me idioom-reeks is prenteboeke gerig op 6-9 jariges. Die stories poog om Afrikaanse idiome aan die jongspan bekend te stel om verdere gesprek oor lewensvaardighede en waardes aan te moedig. Die karakters is jong kinders wat die wêreld om hulle ervaar en bevraagteken en dus goed aanklank vind by jong lesers.

Die uitgewers is Milan en die entrepreneur Charmaine Nolte, wat verlede jaar die kinderboek-maatskappy Murray&Me, begin het.

Milan vertel: 'Ons sien elke dag hoe idiome uit ons kinders se spreektaal verdwyn. Dis egter Prof. Betsie van der Westhuizen van die PUK, wat benadruk het hoe belangrik idiome is as 'n oorbrugging tussen konkrete- en abstrakte denke.'

Die boek word reeds deur vak-adviseurs in skole gebruik, omdat die waarde van idiome nie onderskat moet word nie, maar dikwels in leerplanne oorgesien word.

Linda Bredenkamp, kurrikulum-aanbeveler en 'n graad 5 onderwyser, was die taal-adviseur op die projek. Sy het reeds voor die manuskrip drukkers toe is, begin om die Hetta-manuskrip in haar klasse te gebruik.

Sy glo: 'Hierdie pragtige prenteboeke help ouers en onderwysers om deur voorlees en selflees lewensvaardighede op prettige wyse saam met jonger kinders te verken. Selfs lesers in graad 4-6 wat nog nie gemaklik lees nie, sal aanklank vind by die toepaslike temas, rymende teks en kreatiewe illustrasies.'

'Ons kies letterlik idiome wat prentjies in ons kop ontketen,' sê Milan, 'en ook idiome wat temas aanraak, waaroor ons sterk voel, soos onder meer individualisme, of die belangrikheid van gesprek, of die destruktiewe invloed van boelies.'

In 'Hetta Elizabetta en die Wêreld op haar Skouers' dra Hetta Elizabetta baie swaar. Op dié sewejarige se skouers rus 'n enorme wêreld van probleme en bekommernisse.

'Sy wonder - Kry branders ook seer as hulle breek?
En wat gaan als swel as 'n by haar sou steek?
Dink jy die tandemuis
Het 'n woonstel of 'n huis?
En kom AL die muise sáám om ons tande te bespreek?'

'Daar's ook 'n paar GROTER goed wat haar pla
Wat sy stoksiel-alleen op haar skouers moet dra.
Haar maatjies se baklei
En haar ouers wat stry
En die donker wat haar elke nag bang maak en jaag.'
Publikasiedatum: 2016-10-01

© All Rights Reserved 2017
A Product of CEIT Development