Brandwaterkom

Klik om te vergroot
Klik om te vergroot
9780624073369
R 280
Esther van Emmenes het nie die bakkie hoor stilhou nie. Sy loop heeltemal ingedagte tussen die ou grafstene in die Fouriesburgse begraafplaas rond. Soekend. Dit is trouens waarom sy op dié Vrystaatse dorpie kom woon het, om haar soektog te vergemaklik, om naby die bronne vir haar navorsing te wees. Sy wou veral naby die Brandwaterkom wees, omdat dit is waar die onderwerp van haar studie, kommandant Fanie Vilonel, se verraderlike optrede gedurende die Anglo-Boereoorlog daartoe gelei het dat meer as vierduisend Boerekrygers oorgegee het. Maar selfs hier waar sy hier in die verwaarloosde begraafplaas rondsoek, is sy bewus daarvan dat haar navorsing die afgelope ruk onvoorsiene dimensies bygekry het, hoogs persoonlike dimensies. Vilonel se lewensverhaal dreig om haar lewe te oorwoeker. Sy koue hartstog. Sy verraad. Maar dan hoor Esther die bakkiedeur klap en kyk verskrik om. Deur die hek van die begraafplaas kom 'n man aangeloop. 'n Onbekende man. Hy steek sy hand na haar uit en sê sy naam in Bullet. Hy sê hy wil haar iets wys wat vir haar navorsing baie sal beteken.
Voor die oorlog was kommandant S.G. Vilonel 'n charismatiese prokureur op Senekel; op die slagveld was hy een van die dodelikste skuts wat nog in aksie gesien is. Hy word egter veral onthou om sy verraad in die winter van 1900 en sy aktiewe deelname aan die oorlog teen sy eie mense.
Alexander Strachan se Brandwaterkom is 'n dubbelloop-roman: Dit is enersyds 'n aangrypende, bloedstollende verhaal oor die lewe van een van die berugste Boereoffisiere, andersyds is dit 'n boeiende ondersoek na die verleidelike, soms selfs verraderlike manier waarop verhale van ons besit neem en ons verbeelding op loop jaag. Met verbluffende vernuf trek Strachan albei snellers van die roman gelyk af.
Publikasiedatum: 2015-06-01

© All Rights Reserved 2017
A Product of CEIT Development