Ou bloed

Klik om te vergroot
Klik om te vergroot
9780799361292
R 270
Ou bloed is 'n opvolg op Dieper as die bloed wat in 2012 verskyn het.

Kaptein Thys Krige se dryfveer om 'n speurder te word is die onopgeloste moord op sy pa, die gehate stormramsakeman, Albert Krige. Krige se onortodokse metodes lei hom dikwels met ompaaie na sy einddoel. Landdros Hugo Maas en Pastoor Ron Parsons word in die loop van een nag vermoor. Maas het Parsons reeds tweekeer op aanklagte van pedofilie vrygespreek op grond van onvoldoende getuienis.
Krige word deur opsetlike leidrade wat die moordenaar laat na die moordtonele gelok. Hy besef die moordenaar is dieselfde geheimsinnige man wat gedurende sy ondersoeke in Dieper as die bloed met hom gekommunikeer het. Ook is dit dieselfde persoon wat die aand toe sy pa vermoor is vir hom gesê het, 'kyk dieper as die bloed'. Hy glo dit is sy pa se moordenaar.

In beide Maas en Parsons se huise is kinderpornografiemateriaal wat daarop dui dat hulle pedofiele was.
Twee meisies, Patsy Willems en Salome Marx, in hul vroeë tienerjare raak in verskillende dele van Pretoria vermis. Hulle word aan kinderhandelaars verkoop, en van Maputo na die Midde-Ooste verskeep. Tydens die reis kaap Somaliese seerowers die skip.

Krige ontvang 'n verdere leidraad van die moordenaar; 'n DVD-opname van hoe Maas en Parsons vermoor word. Daar is ook 'n foto by van 'n meisie in haar vroeë tienerjare, en 'n nota. Die nota sê die meisie se naam is Karen, en dat sy 'ou bloed' is wat steeds roep. Krige vind uit Karen het vyftien jaar tevore vermis geraak, enkele dae voor sy pa vermoor is. Dieselfde aand toe sy pa vermoor is, is haar ontvoerders ook vermoor, maar sy het verdwyn. Slegs pornografiese materiaal van Karen en etlike ander vermiste meisies is in die vermoorde ontvoerders se huis gevind.

Krige kom tot die gevolgtrekking dat Maas en Parsons se moordenaar hom wil teruglei na daardie gebeure. Hy soek na 'n verband tussen die moordenaar, Karen, sy pa, en die ontvoerders. 'n Priester, die oom van Karen Borijn en haar broer Constantin, gee hom meer inligting. Navraag by Interpol onthul dat Constantin Borijn 'n bedrewe kuberkraker en moordenaar van pedofiele is wat lank reeds gesoek word. Krige treë in verbinding met polisielede wat destyds by die ondersoek na Karen se verdwyning en die moord op haar ontvoerders betrokke was. Hy kry onder andere inligting oor Salome Marx wat onlangs vermis geraak het. Dit bring hom op die spoor van drie Libanese; twee mans en 'n vrou. Hulle het Salome geken, en was die laaste persone wat haar gesien het.

Die ontvoerders van Patsy Willems word vermoor. 'n Ooggetuie vertel vir Krige dat drie mense, vermoedelik twee mans en 'n vrou, die daad gepleeg het. Hy het ook gesien hoe Patsy Willems aan kinderhandelaars verkoop word. Krige lei af dat die moord oor territoriale regte gaan.

Met die inligting, die hulp van Interpol, en 'n SMS wat Maas en Parsons se moordenaar vir hom stuur, kom hy op die spoor van die kinderhandelaars, en kry hy bevestiging dat die Libanese betrokke is. Op grond daarvan lei hy af dat die Libanese gereelde verskaffers aan die kindehandelaars moet wees. Hy reël 'n klopjag op die kinderhandelaars se plek, en gaan stel self ondersoek in by die Libanese se plek. Tot sy verbasing is die geheimsinnige moordenaar van Maas en Parsons ook daar. Hy is Constantin Borijn, het Krige se selfoongesprekke afgeluister, en so sy planne agtergekom. Krige verwond hom in die skietgeveg, maar voor hy sterf dwing hy 'n bekentenis uit die Libanese vrou dat sy en die twee mans vir Albert Krige vermoor het, asook die ontvoerders van Karen. Dit is die rede waarom Borijn vir Krige teruggelok het na die verlede; om sy suster, Karen, te wreek, en vir Krige die waarheid oor Albert Krige se moord te gee.

In 'n dokument wat Constantin Borijn agterlaat kom dit uit dat hy Krige se halfbroer is.
Publikasiedatum: 2013-06-01

© All Rights Reserved 2017
A Product of CEIT Development