Driehoek

Klik om te vergroot
Klik om te vergroot
9780799361476
R 295
HERDRUK.
Driehoek is Tessa se verhaal. Tien jaar het verloop nadat ons Tessa in Die verhuising leer ken het. Sy is nou 32, 'n vryskutjoernalis in Johannesburg en swanger by 'n man wat nooit vir haar vertel het hy is nog getroud nie. En vir die eerste keer in haar lewe is Tessa in 'n hoek waaruit niks haar kan help nie. Dis sy, haar gewete en die moedeloosheid wat soos 'n swart jas aan haar hang. Selfs nie eers as Danelle haar kom haal en haar Potch toe neem om te herstel, sien sy lig nie. Dit is eers as sy in dieselfde rehabilitasiesentrum beland as waar Danelle se ma was, dat sy besef hoe verskriklik sy as mens gefaal het.

Maar Driehoek is ook Amanda se storie - die ander vrou in die liefdesdriehoek. Ten spyte van Tessa se pogings om die verhouding stil te hou, vind Amanda uit dat haar man haar verneuk het, en sy moet toekyk hoe die gesin waarom haar hele lewe gewentel het, uitmekaar val. Sy probeer vergewe en vergeet, maar dit help nie - haar man het 'n mens geword wat sy nie ken nie en wat sy nie meer in haar lewe wil hê nie. Uiteindelik is haar woede en wrokkigheid oor sy verraad so erg dat sy nie net haar huwelik vernietig nie, maar haar kinders - en haarself - in die proses skade berokken.

In die ander hoek staan Hertzog van der Walt, Amanda se broer en 'n professor in teologie op Potchefstroom. Hy is die een wat moet toekyk hoe sy suster en haar dogters swaarkry omdat 'n koelbloedige vrou na 'n man gegryp het waarop sy nie geregtig was nie en wat moet stilbly toe die einste vrou by sy bure kom aansterk.

Tessa is 'n doring in sy vlees - hy weet presies wie en wat sy is en hoe ver sy sal daal - en sy is in elke moontlike opsig die teenoorgestelde van wat hy in 'n vrou bewonder. Maar dit keer nie dat hy van haar bewus is nie - verskriklik bewus is nie - en elke onderonsie wat hy met haar het, versterk die bewustheid honderdvoudig. Uiteindelik moet hy die stryd gewonne gee en erken dat hy op haar verlief geraak het, maar selfs dit is nie maklik nie - Tessa se liefde is nie iets wat met vooroordeel van enige aard gepaardgaan nie. Dit kos hom 'n hele paar moeilike lewenslesse voordat hy in staat is om te besef hoe hy haar moet benader.
Driehoek is nie 'n konvensionele liefdesroman nie. Dit stel besondere eise aan die hoofkarakters en die leser, en daar is nêrens 'n maklike oplossing nie. Al wat daar uiteindelik is, is vergifnis en genade en die bereidwilligheid om te aanvaar dat die lewe meer kompleks is as wat die meeste mense mee gemaklik is. Maar vir almal wat bereid is om hulle bagasie, hulle vooroordeel en hulle voorbehoude neer te lê, is daar 'n tweede kans en 'n geleentheid om ten volle te mag liefhê.
Publikasiedatum: 2014-05-01

© All Rights Reserved 2017
A Product of CEIT Development