Die Baanbrekers

Click to enlarge
Click to enlarge
9781868424474
R 220
In Suid-Afrika kan mens met reg en mening kapsie maak teen die gebrek aan ordentlike leierskap op regeringsvlak. Maar net so wanneer jou hoop en geloof in die land aan't taan is, gebeur daar iets uitsonderlik vanuit plaaslike sportgeledere.


Die Springbok-rugbyspan was al twee keer die wêreldkampioen. Die Bulls het in 2010 die grootste rugbyderby in Suid-Afrika na Soweto gevat en opnuut die Madiba Magic van die Wêreldbeker-rugbytoernooi van 1995 laat herleef. Die Springbok-sewesspan laat homself gereeld met innovasie op innovasie teen fisiek en vaardig baie beter spanne as hyself uitstaan. Ons swemmers en gholfspelers is in twee van die mededingenste sportsoorte op aarde van die heel bestes. En die Protea-krieketspan - veral die huidige toetsspan - sal in die geskiedenis van krieket as van die heel grootstes tot nog toe onthou word. Hierdie spelers en spanne word ons grootste nasionale helde. Waar politiek verdeel, bring sport mense saam.


En dit is waaroor Baanbrekers gaan - oor die Suid-Afrikaanse leiers in sport wat ook die bestes ter wêreld is.


Marco Botha ondersoek strukture soos dié wat Heyneke Meyer in 2000 aan die flenters Blou Bulle Maatskappy voorgelê en geleidelik ingestel het om hulle in die tweede helfte van daardie dekade die mees gerespekteerde rugbymaatskappy en gevreesde streekspan ter wêreld te maak.


Hy kyk na hoe werwing en loopbaanbeplanning volgehoue sukses moontlik kan maak. En in detail hoe die analise van teenstanders 'n gemiddelde span bo reuse kan laat uitstyg.


Individuele vaardighede en die sielkunde in sport word ondersoek, met Ernie Els as 'n voorbeeld van 'n ouer sportman, wat sy loopbaan met klein dog noodsaaklike verstellings weer op koers gekry het.

Gary Kirsten en Paddy Upton het met 'n 'nuwe skool' van afrigting begin, waar deelnemende bestuur en leierskap, die krieketspan na 'n volgende vlak geneem het.

Wat hierdie boek van ander sportboeke onderskei, is dat sport bloot toevallig die waentjie is waarop 'n paar universele beginsels van leierskap vervoer word. Die lesse wat by van Suid-Afrika se voorste sportleiers geleer kan word, kan toegepas word in sport, in die sakewêreld, in 'n gesin en eindelik waar ook al daar met mense gewerk word en uitnemendheid nagestreef word.

Marco Botha is 'n spesialisjoernalis van Die Burger in Kaapstad. Hy was Rapport, Beeld, Die Burger en Volksblad se senior nasionale rugbyskrywer in Pretoria, van waar hy saam met onder meer die Springbokke, Bulls en Blitsbokke gereis en oor hulle verslag gedoen het.
Publication date: 2014-03-01

© All Rights Reserved 2017
A Product of CEIT Development