Als oor kop

Click to enlarge
Click to enlarge
9780799361537
R 240
Die een oomblik kyk die wêreld nog met heldeverering na die blinkleerpunte van CC Veldsman se Christian Louboutins, die volgende oomblik wonder sy of daar 'n mark vir daardie einste skoene op die internet is.

Die wiel draai en hy maal deeglik. Bo wink die liggies van Kaapstad, die polsende stad wieg op maat van haar ritme. Selfs haar kêrel is die volledige pakket en duidelik versot op haar, maar die aarde kom stadig nader: Die resessie maak van haar ontwerpe ou, duur nuus. Onder besef sy haar kêrel het voete van klei en kniëe wat wankel. Prince Albert is dalk die plek waar sy mens geword het, maar sy kan nie eintlik terug nie. Terug is nooit 'n opsie nie. Behalwe as terug die enigste opsie is.

Haar pa se dood ruk CC tot stilstand. Sy testament skud haar fondamente. Dít terwyl haar modehuis besig is om bankrot te speel en die Kaap kwalik 'n toevlugsoord bied. Haar keuses? Skud finaal die Karoostof van haar Louboutins af en vergeet van die hele ou spul. Of gee alles op, foeter áls oor kop terug Karoo toe om bakhand te gaan staan voor haar eksentrieke buurman. Maar as sy dit doen, moet sy nog iets doen wat sy altyd gesweer het nooit onder haar ontwerperspotlood gestalte sal kry nie: trourokke! Hoe kry sy dit oor haar hart om 'n rok te skep wat die einde van avontuur en onafhanklikheid vier?

Vanuit die graf dwing haar pa haar demone en skuldgevoelens na die lig en forseer haar om veel dieper in haarself te kyk as wat sy ooit wou.
Om haarself te vind is een ding, maar toe die blas, kunssinnige Karoobuurman met sy sensitiewe hande en reguit blik haar lewe betree, is daar nog groter probleme. Kan sy hom vertrou? Kan sy haarself vertrou? Moet sy regtig álles opgee wat vir haar tot nou belangrik was? Vonke wat spat mag mooi wees, maar in die dorre Karoo word dit 'n vuur wat alles kan verteer.

Als oor kop is die verhaal van 'n jong vrou met 'n ou siel wat gedwing word om eers op haar spore terug te stap na die kern van haar menswees, ook van haar vrouwees. Dan kan sy die uitdagings van werklik voluit lewe in die oë staar.

Glans verdof vinnig en alles wat daarin gebaai het, vergaan ewe gou. In die proses ontdek CC dat 'n mens eers by jouself moet uitkom voordat jy geluk durf najaag.
Publication date: 2014-02-01

© All Rights Reserved 2017
A Product of CEIT Development